 |
Lizette en die Silwer Beker (Afrikaans);
1983
Lizette en die Silwer Beker is die verhaal
van 'n lewenslustige meisietjie se eerste
jaar opskool. Kordaat en vol selfvertroue
stap sy die eerste dag die sub A-klas binne.
Aan die begin verloop alles glad, maar reeds
voor die dag om is, leer Lizette 'n belangrikke
lewensles... Soos die jaar vorder, kom sy
ook agter dat daar in 'n skool baie meer te
leer is as net lees, skryf en reken.
|
| |
|
 |
Lizette en die Kapokkies (Afrikaans);
1984;
Lizette en die Kapokkies is nog 'n lekkerleesboek
vir kinders va 6-9 jaar oor die lief en leed
van die gewilde klein Lizette en haar Sub A-maats,
Anna, Erna, Gert en Frans. Hierdie keer beland
Lizette in die hospitaal waar sy allerhande
nuwe dinge leer waarvan haar maats nog niks
weet nie. Boonop kry sy as troosprys van haar
oupa 'n ongewone present. Maar dit is net waar
die lollery begin...
|
| |
|
 |
Lizette en die Tandmuis (Afrikaans);
1985
Lizette is bitter ontevrede. Van haar maats
kan al spog met amperse haasbekke. Hulle kan
met smaak vertel van die tandmuis en van presente
wat hy vir hulle bring. Maar haar tande sit
waar hulle sit - totdat daar 'n ongeluk gebeur
en die een tand losraak, net reg vir uitpluk.
O lekker! Maar haar vreugde is van korte duur.
En die aand is daar niks om in haar skoen te
sit nie, niks om vir die tandmuis in 'n briefie
te vertel nie... Of is daar dalk?
|
| |
|
| |
Wanneer dit moeilik gaan (Afrikaans)
, NG Kerk Publishers; 1984
|
| |
|
 |
Miempie (Afrikaans) / Mimi (English
translation by Madeleine van Biljon) Daan Retief;
1990
Miempie groet elke oggend in ou Tafelberg,
want hul huis is so naby aan die berg dat sy
amper daaraan kan raak. Sy is in die wolke toe
sy gekies word om 'n feetjie te wees in die
operette wat by die skool opgevoer word. Toe
tref die ongeluk haar! Terwyl almal oefen, lê
sy twee bene in die lug met waterpokkies. Die
aaklige waterblasies jeuk en brand en Miempie
is sommer op moedverloor se vlakte. Om alles
te vererger, ry iemand vir snuffles, haar dierbare
brak, raak.
|
| |
|
 |
Die Geheim van Groukatlaagte (Afrikaans);
1995/1997
'n Uitnodiging om in die middel van 'n nat
en triestige Kaapse wintervakansie op 'n Karooplaas
te gaan kuier, is nie te versmaai nie. En as
daar nog boonop perde en 'n spookhuis op die
buurplaas is, is so 'n uitnodiging onweerstaanbaar
- veral vir Wikus Jordaan, spookkenner by uitnemendheid.
Wikus en sy maats Karel en Giepie word hartlik
deur oom Boet en tant Lenie ontvang. Reeds daardie
eerste nag word Wikus wakker van donderende
perdehoewe, maar toe hy vir oom Boet daaroor
uitvra, praat die gou oor ander dinge. En toe
oom Boet en tant Lenie boonop alles moontlik
doen om te keer dat die seuns Groukatlaagte
toe gaan, weet Wikus die oumense steek iets
weg. Maar so maklik laat Wikus hom nie onderkry
nie. Die geheim van elke winter se spokery op
Groukatlaagte gaan hy oplos, kom wat wil...
|
| |
|
 |
Die Stem in die Trommel (Afrikaans);
1995/1998/2000/2005
Tien dae se vakansie by die see! Wikus kan
skaars wag. Toe oom Gawie en tant Koba vir hom,
Karel en Giepie kom oplaai, is hulle bewapen
met visstokke en swembroeke en 'n groot lus
vir vakansie hou na die eksamen. Daardie eerste
naweek is ook een groot lekkerte en die seuns
se woema het geen einde nie. Maandagaand met
springgety gaan pluk hulle by Sandhoek swartmossels
en Wikus het binne 'n japtrap sy toegelate vyf-en-twintig
mossels. Maar hoe voel dit nou aanmekaar of
iets hom vanuit die donker dieptes dophou? Die
maanlig blink op die verste rotsbank en hy besluit
om te gaan ondersoek instel. En daar, in 'n
diep skeur, sien hy iets donkers. Min het Wikus
geweet wat hierdie vonds uiteindelik sou oplewer...
|
| |
|
 |
Skaduwee op Siwet (Afrikaans); 1995/1997
Toe Prof Pieta vir Wikus en sy maats nooi om
saam Bosveld toe te ry om sy nuwe huis te bekyk,
is hulle dadelik vuur en vlam. Wat maak die
hitte en die muskiete nou saak as jy by 'n gesogte
vakansieoord kan gaan kuier? Maar van die begin
af lyk dinge nie pluis nie. Wikus verbeel hom
die diere in die muurtekening beweeg, hy voel
skielik verskriklik naar en swak, en die eerste
aand kry iets of iemand hom aand die keel beet
en verwurg hom byna.Die tweede aand raak hy
so siek dat hy in die hospitaal opgeneem moet
word. Prof Pieta, Karel en Giepie besluit hulle
moet, kom wat wil, agterkom wat aangaan. Maklik
is dit egter nie, en in die proses word Prof
Pieta ook deur die Skaduwee toegetakel.
|
| |
|
 |
Droomkamer op Donkerhoek (Afrikaans);
1996/1998;
Wikus en Karel was nie baie opgewonde oor die
vooruitsig om die langnaweek Giepie se tant
Nelda op Donkerhoek te gaan oppas nie, maar
dit was net tot hulle die interessante ou huis,
weggesteek tussen die somber bome, gesien het.
Karel wou onmiddelik net oral begin fotostudies
doen en Wikus was omtrent in sy skik met die
hoefyster, weerhaan en bossie knoffel wat hom
laat vermoed het dat Donkerhoek dalk sy eie
spook of twee het. En dit was nog voordat hulle
in die kelder gekom het!
|
| |
|
 |
Die Osirisraaisel (Afrikaans); 1997
Toe Wikus se ekstentrieke ouma met haar verflenterde
bakkie en 'n ou kas agterkop by Wikus-hulle
se hek ingewaai kom, kon die drie maats net
verdwaas toekyk. En toe sy ewe koetjies verklaar
dat die kas vir Wikus is "vir al daardie
goed wat so rondlê..." was dit vir
hulle eers snaaks. Maar min het Wikus, Karel
en Giepie kon raai op watter paaie die kas hulle
sou vat en watter geheime daarin opgesluit is.
|
| |
|
 |
Skimme van Gister (Afrikaans); 1998
Alles het begin by die pastelskets wat Wikus
by die skoolkermis gewen het. Dit was asof die
ding hom gehipnotiseer het. Hom wou intrek en
deel maak van gebeure waar iets nie lekker pluis
was nie... Sal Wikus die raaisel van die hartseer
vrou in sy stoel kan oplos? En wat gaan Karel
en Giepie doen om hom te help?
|
| |
|
 |
Dwaalgees van Duiwelskantoor (Afrikaans);
1999
Wikus en sy twee vriende is op 'n graadnege-geskiedenistoer
in Mpumalanga. Hulle is deel van die groep wat
Kaapschehoop toe gaan - 'n afgeleë plekkie
wat eens op 'n tyd Duiwelskantoor geheet het.
Sommel al op pad soontoe kom Wikus agter iets
is nie pluis nie. By die ou NZASM-tonnel by
Waterval-Boven sien hy 'n man op 'n perd wat
vir hom verdag lyk en hy voel hoe sy hare rys
en die hoendervel teen sy arms oplig. Op Kaapschehoop
aangekom, lyk alles aanvanklik normaal, maar
dit is eers toe hulle die aand in die ou Royal
Hotel gaan slaap, dat die poppe begin dans...
|
| |
|
 |
Spookhuis by die See (Afrikaans); 2003/2005
Hierdie keer gaan Wikus, Karel en Giepie vir
'n naweek saam met Giepie se ouers in Mosselbaai
kuier. Dis is 'n familiesaamtrek en omdat daar
te veel mense in die groot huis is, moet die
drie vriende in Giepie se oom-hulle se ou houthuis
aan die rant van die dorp slaap. Gou egter kom
Wikus agter iets is nie pluis met die huis nie.
Hy hoor en sien dinge wat die ander twee nie
kan nie...
Wat het dit alles te doen met die trekklavier
wat Giepie se oom op die strand opgetel het,
en die ontwykende klein wit bokkie wat gereeld
sy verskyning naby die ou houthuis maak? En
dan is daar nog die geheimsinninge ou man wie
die mense in die omgewing ten alle koste vermy.
|
| |
|
| |
Die Geeste van die Amathole (Afrikaans),
Human & Rousseau; (Pre-Produksie)
Duiwel in die Bos, Human & Rousseau (Pre-Produksie)
|
| |
|
 |
By die Lêplek van die Leeus (Afrikaans)
, JL van Schaik; 1997
Met haar toelating tot die arbeidterapiekursus
by die universiteit leer Dudu 'n nuwe wêreld
ken - ver weg van Sebokeng en ouma Thandi, ver
van die mank Alfred wat deur die heks getoor
is en nie naby ander mense mag kom nie, ver
van haar Pule wat met sy eie hande vir haar
'n karos bebrei het, die karos wat die dooies
een aand in Atteridgeville se parkie by haar
gesteel het. Haar nuwe wêreld is in talle
opsigte tegelyk aantreklik en verwarrend. Die
Vissers probeer hul bes om haar in hulle huis
te laat tuis voel, maar ouma Magrieta maak geen
geheim van haar afkeer van Dudu nie. Die norse
houding van Bettie, die huishulp, is ook heeltemal
onbegryplik. By die lêplek van die leeus
bied stof tot nadenke, maar is allereers die
uitsonderlike verhaar van 'n meisie wat haarself
in 'n maalkolk van vooroordeel moet vind en
handhaaf.
|
| |
|
 |
Oupa Daan laat sy kierie staan (Afrikaans)
, Lux Verbi; 2007
'n Oupa is vir 'n kind 'n groot lekkerkry.
En oupa Daan is nie 'n uitsondering op hierdie
reël nie! Sy kleinkinders, Albert, Karin,
Coert en Wanda, kan nie genoeg van hom kry nie.
Elke oggend word daar in die Malan-huishouding
'n ritueel gevolg: Wanneer hulle aan sy kamerdeur
kom klop om hom met koffie en beskuit te bederf,
is dit tyd vir speletjies en rympies.
|
| |
|
 |
Bonsie, die rooi rubberbal (Afrikaans),
Golden Books Uitgewers, 2007
Bonsie, die rooi rubberbal lê in die
modder en wens so dat sy maatjies hom agter
die muur sal vind. Vuzi en Thandi kry weer die
rooi rubberbal na 'n reënstorm en gee vir
hom 'n nuwe voorkoms. 'n Eg Suid-Afrikaanse
storie met aangename rymwoordjies.
|
| |
|
| |
|
| |
|