Louise Prinsloo
Tuis  
     
 
 
Hoekom navorsing vir spookstories, kinder-en jeugverhale doen? Is ‘n vraag ek gereeld gevra word. Die antwoord is doodeenvoudig: omdat daar altyd ‘n leser sal wees wat die omgewing, geskiedenis of omstandighede ken waaroor geskryf word.
Al skryf ek spookstories, moet die feite van die omgewing, gewoontes, vervoermiddels, kos, drank en kleredrag van die tyd waarin die storie afspeel, korrek wees. Voordat ek my hand aan die genre gewaag het, het ek vir twee jaar lank navorsing oor spoke gedoen en tot die slotsom gekom dat daar verskillende soorte spoke is – gedaantes; dwaalgeeste; poltergeeste; drogbeelde; verskynsels en dan is daar natuurlik ook lug, grond en waterspoke! Diere kan ook spoke wees. Ek het baie boeke oor die onderwerp gelees en met mense gaan gesels wat ‘n studie van spoke maak of beweer dat hulle paaie al met spoke gekruis het.
Ek verkies om oor plekke te skryf wat ek al besoek het. So byvoorbeeld is Die Geheim van Groukatlaagte na ‘n besoek aan ‘n plaas in Williston in die Noordwes-Kaap gebore. Stem in die Trommel is geskryf na ‘n vakansie by Jongensfontein, maar ek moes baie navorsing oor seevaart, skepe, muntstukke en skeepstrommels doen voordat ek die verhaal kon begin skryf. Ek het selfs die muntmuseum besoek sodat ek die gevoel en reuk van antieke munstsukke kon kry. Skaduwee op Siwet het ek na ‘n besoek aan Numbiprak naby die Kruger Wildtuin geskryf. Omdat die verhaal teen die agtergrond van die goudstormloop in die Plegrimsrust, ‘n malariageteisterde gebied afspeel, moes ek navorsing daaroor asook oor malaria doen.
Dwaalgees van Duiwelskantoor is geskryf nadat ek Kaapschehoop in Mpumalanga besoek het. Droomkamer op Donderhoek speel in ‘n denkbeeldige huis met ‘n solderkamer af. Ek moes navorsing oor drome doen. Voordat ek Skimme van Gister kon skryf, het ek ‘n sielkundige besoek wat my meer omtrent hipnose vertel het. Die Osirisraaisel is volop bygelowe en dus moes ek ‘n studie oor verskillende bygelowe maak. Spookhuis by die See is gebore na ‘n besoek aan Mosselbaai en een van my kollega’s wat ‘n ou trekklavier vir my gebring het met die opdrag: Skryf ‘n spookstorie oor die trekklavier.
By die Lêplek van die Leeus word as faksie - ‘n vermenging van feit en fiksie, beskou. Ek het die storie geskryf na aanleiding van ‘n swart meisie wat ‘n tyd lank by ons in die huis gebly het. Ek moes baie navorsing oor die Zulu-kultuur doen, insluitend professore by die Universiteit van Pretoria asook ‘n sangoma naby Bronkhorstspruit besoek, voordat ek my hand aan die verhaal gewaag het.
Maar die wonderlikste van alles is dat niemand nog nooit vir my gelag of gespot het wanneer ek by hulle vir hulp gaan aankop het nie. Almal was meer as bereid om my te help. Sommige het selfs met interessante kreatiewe wenke gekom.